1‘n Lied. ‘n Psalm van die kinders van Korag. (48:2) Die HERE is groot en baie lofwaardig in die stad van onse God, sy heilige berg!"
2(48:3) Skoon deur sy verhewenheid, die vreugde van die hele aarde is die berg Sion, aan die noordekant, die stad van die groot Koning!"
3(48:4) God het Hom in sy paleise bekend gemaak as ‘n rotsvesting."
4(48:5) Want kyk, die konings het bymekaargekom, tesame opgetrek."
5(48:6) Skaars het hulle dit gesien, of hulle het verstom, verskrik geword, in angs weggevlug."

6(48:7) Bewing het hulle daar aangegryp, smart soos van een wat baar."
7(48:8) Deur die oostewind verbreek U die skepe van Tarsis."
8(48:9) Soos ons gehoor het, so het ons gesien in die stad van die HERE van die leërskare, in die stad van onse God: God sal dit bevestig tot in ewigheid. Sela."
9(48:10) o God, ons dink aan u goedertierenheid binne-in u tempel."
10(48:11) Soos u Naam, o God, so is u roem tot die eindes van die aarde toe; u regterhand is vol geregtigheid."

11(48:12) Laat die berg Sion bly wees, laat die dogters van Juda juig oor u oordele."
12(48:13) Gaan rondom Sion, trek daaromheen, tel sy torings;"
13(48:14) let op sy skanse, wandel deur sy paleise, sodat julle dit aan die volgende geslag kan vertel,"
14(48:15) dat hierdie God onse God is, vir ewig en altyd; Hy sal ons lei tot die dood toe."
You have read Psalms 48
14 verses