1Vir die musiekleier; op die wysie van: "Lelies." Van die kinders van Korag. ‘n Onderwysing. ‘n Lied van die liefde. (45:2) My hart word bewoë deur goeie woorde; ek dra my gedigte voor aangaande ‘n Koning; my tong is die pen van ‘n vaardige skrywer."
2(45:3) U is veel skoner as die mensekinders; genade is uitgestort op u lippe; daarom het God U geseën vir ewig."
3(45:4) Gord u swaard aan die heup, o held, u majesteit en u heerlikheid;"
4(45:5) ja, u heerlikheid! Ry voorspoedig ter wille van waarheid en ootmoed en geregtigheid; en laat u regterhand U vreeslike dinge leer!"
5(45:6) U pyle is skerp (volke val onder U!); hulle tref in die hart van die Koning se vyande."

6(45:7) U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ‘n regverdige septer."
7(45:8) U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid. Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle."
8(45:9) Al u klere is mirre en alewee en kassie; uit ivoorpaleise maak snarespel U bly."
9(45:10) Dogters van konings is onder u staatsdogters; die koningin staan aan u regterhand in goud van Ofir."
10(45:11) Hoor, o dogter, en kyk en neig u oor, en vergeet u volk en die huis van u vader;"

11(45:12) en as die Koning u skoonheid begeer—want Hy is u Heer—buig u dan voor Hom neer."
12(45:13) En, o dogter van Tirus—met geskenke sal hulle u guns soek, ja, die rykstes van die mense."
13(45:14) Louter heerlikheid is die Koning se dogter daarbinne; van gouddraad is haar kleding."
14(45:15) In veelkleurige gewade word sy na die Koning gelei; jonkvroue agter haar, haar vriendinne, word na U gebring."
15(45:16) Hulle word gelei met vreugde en gejuig; hulle gaan in die Koning se paleis in."

16(45:17) In die plek van u vaders sal u seuns wees; U sal hulle aanstel as vorste in die hele land."
17(45:18) U Naam wil ek vermeld van geslag tot geslag; daarom sal die volke U loof vir ewig en altyd."
You have read Psalms 45
17 verses