1Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. HERE, U deurgrond en ken my."
2U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte."
3U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend."
4Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, HERE, U ken dit geheel en al."
5U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my."

6Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie."
7Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig?"
8Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar!"
9Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon,"
10ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou."

11En as ek sê: Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting,"
12dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig."
13Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef."
14Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed."
15My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde."

16U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie."
17Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie!"
18Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand; word ek wakker, dan is ek nog by U."
19o God, as U tog maar die goddelose wou ombring! En julle manne van bloed, gaan van my af weg!"
20Hulle wat arglistig teen U spreek, u Naam ydellik verhef—u teëstanders!"

21HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en ‘n afsku hê van die wat teen U opstaan nie?"
22Ek haat hulle met ‘n volkome haat; vyande is hulle vir my!"
23Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes;"
24en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!"
You have read Psalms 139
24 verses